Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.6.13

’n Groot joernalistetekort

FRANS DU TOIT, assistent-redakteur van Die Vaderland, skryf in Januarie 1973 in Perskorhaan:

Wat het van die Afrikaanse joernaliste geword? Die manne verantwoordelik vir die personeel by al vier Perskor se koerante, soek na 'n antwoord op hierdie vraag.

Die Transvaler, Hoofstad, Oggendblad en Die Vaderland het elkeen 'n groot personeeltekort. Aan die einde van November was daar 18 vakatures by Die Vaderland alleen. By die ander het dit nie veel beter gegaan nie.

Vóór die stigting van Hoofstad op 1 April 1968 was daar net twee Afrikaanse dagblaaie in Transvaal - Die Transvaler en Die Vaderland -- en drie ander in die res van die land.

Nou is daar vier in Transvaal en nog dieselfde drie in die res.

Joernaliste vir die nuwelinge Oggendblad en Hoofstad het hoofsaaklik van Die Vaderland af gekom. Tog het laasgenoemde daarin geslaag om 'n sterk senior kern te behou, hoofsaaklik weens die voeding wat ontvang is met die samesmelting van Dagbreek en Die Beeld.

Daar het egter 'n geweldige lugleegte onder hierdie seniors - of uitvoerende groep - ontstaan. Die jong manne in die veld, hoofsaaklik met drie tot ses jaar ondervinding, het al hoe minder geword.

Hierdie toestand het hoofsaaklik ontstaan omdat daar nie nuwelinge opgelei is nie. Hierdie groep -- bekend as kadette -- het ontbreek.

GOEIE REDES

Daarvoor is daar baie redes, maar die belangrikste is seker die feit dat die koerante bloedmin, indien enige, aansoeke van gegradueerde studente ontvang het om tot die joernalistiek toe te tree.

Om onverklaarbare rede het die "glamour" van die joernalistiek verdwyn. Daardie opwinding van die beroep het nie meer as lokaas gedien nie.

Hierdie verskynsel het nie in die suide voorgekom nie. Koerante in die Kaap en Vrystaat het steeds 'n toevloei gehad. Selfs van RAU, die universiteit op ons eie drumpel, het gegradueerde studente by daardie redaksies aangesluit.

Die Vaderland het in die afgelope drie jaar geen aansoeke van gegradueerdes ontvang nie.


Nie aan die begin van daardie jare nie en ook nie later nie.

 KATASTROFIES

Ná die plasing van die produkte van ons eie opleidingskool -- wat helaas na 1969 doodgeloop het -- was Die Vaderland se redaksie voltallig. Behalwe 'n sporadiese vakature, af en toe, was die personeelomset uiters gering.

Hierdie toestand het voortgeduur tot diep in 1971 en sedertdien versleg tot 'n personeelomset van 27 persent aan die einde van 1972.

Die invloed daarvan op 'n hoogs georganiseerde organisasie soos 'n koerantredaksie was katastrofies. Die ergste slag was 'n algehele stilstand in spesialisering en opleiding in spesiale afdelings, soos die subredaksie.

Om ervare joernaliste van buite te trek, was feitlik onmoontlik. Die groot rede hiervoor was die salarisskale en ondanks 'n verbetering in Julie 1972, het die toestand steeds versleg. Dit was net onmoontlik om iemand van buite -- die ander koerante -- te lok.

VOORDELE

Ten spyte van die feit dat die salarisskale van die suidelike koerante swakker was as ons eie, kon slegs enkelinge van hierdie koerante oorgehaal word om by ons aan te sluit. In elke geval was daar spesiale omstandighede.


Selfs die beter voordele, werkure, vooruitsigte, het Johannesburg (en Pretoria) vir hierdie mense onaanvaarbaar gebly.

Nadat Die Vaderland in Oktober/November 1972 altesaam 32 ervare verslaggewers genader het, was dit duidelik dat hulle deur die bank afgeskrik word deur die lewensduurte van die stad.

'nVerhoogde salaris van R40 per maand is nie genoeg om daarvaar te vergoed nie. Veral die jong getroude verslaggewers steek hier vas. Hulle sien nie kans vir 'n stryd in 'n stad soos Johannesburg nie.

Die enigste ander uitweg vir die redaksies was om onervare mense aan te stel en hulle so gou moontlik op te lei -- ‘n proses wat 'n geweldige invloed op produksie en doeltreffende beriggewing het.

GESAGHEBBEND

Hierdie mense, hóé belowend en gewillig ookal, is vir 'n redaksie van weinig waarde voordat hulle nie minstens drie jaar in die meul was nie. Eers dan is hulle in staat om sonder gedurige onderrig en leiding te werk en is 'n nuusredakteur in staat om hul waarde en vermoëns te bepaal.

Belangriker nog is om die bestaande personeel teen elke prys te behou. 'n Koerant kan nie geloofwaardig wees as hy nie 'n ervare kerngroep joernaliste het nie. 'n Joernalis moet oor enige onderwerp gesaghebbend kan skryf, en hierdie hoedanigheid kan slegs deur ervaring aangekweek word.

Indien so 'n man jou redaksie verlaat, vertrek hy met al sy ervaring, gesaghebbendheid en sy kontakte. Hierdie nuusbronne moet dan van vooraf bearbei word en dit neem 'n nuwe man lank om vertroue te wen.

GROOT GEBREK

'n Koerant kan nie vooruitgaan sonder hierdie soort joernaliste nie. Helaas, sit ons met 'n groot gebrek aan hierdie mense. In hierdie nuwe jaar gaan dit ons die hardste slaan.

Ons kan die beste planne beraam, die nuus diep uitkrap, maar as ons nie die regte mense het om dit te produseer nie, kan ons die stryd gewonne gee. In hierdie geval is 'n halwe eier nie beter as 'n leë dop nie.

Die Afrikaanse leser het opgevoed geraak, hy weet wat hy in 'n koerant wil hê en aanvaar lankal nie meer die tweede beste nie. Die deeglike en omvangryke nuusdekking van die Engelse pers het vir hom 'n maatstaf geword.

Perskor het pas nuwe salarisskale vir sy redaksies goedgekeur. Dit is goeie skale wat deur geen ander Afrikaanse koerantgroep geklop word nie.

Ons vertrou dat ons met hierdie toegewing kan begin om ons probleme op te los.

Nou moet ons inklim, mense oplei, nuusdekking uitbrei en ons geloofwaardigheid bring tot op 'n onbesproke peil. Voor ons lê beeldradio en ander taai mededingers.